Die Koöperasie fasiliteer tans uiters gespesialiseerde “in-situ” grondontledings, wat meer as net die normale grond se chemiese eienskappe ontleed. Die analises sluit in die grond se fisiese eienskappe (grondfisika), soute en ‘n voedingsanalise (slegs bo grond).
Prof. Leon van Rensburg (https://vanslab.co.za ) gee dan ‘n “grondgesondheidsbeoordeling” en praktiese aanbeveling indien nodig.
Die grondfisika sluit in:
• die teksture;
• deurligting,;
• versadigde hidroliese vloei;
• water stoor vermoë;
• permanente verwelk punt;
• en die dispersie.
Die Koöperasie nooi geïnteresseerde boere uit om deel te neem aan hierdie rondte ontledings, teen ‘n geraamde koste van ongeveer R5 600 per monster. Monsters sal professioneel geneem word deur opgeleide personeel van die laboratorium. Die profiel- gate moet asseblief net vooraf gegrawe word, (nie meer as 2 profielgate per boer nie.) Moet asseblief nie wag tot ons op die plaas kom nie, dit gaan die proses onnodig vertraag.
Die profielgate moet asb. 1.2m breed X 1.2m lank en 1m diep wees.
Wanneer ons die uitslae van die monsters beskikbaar het, beplan ons om ‘n inligtingsdag saam met die belanghebbende groep boere te hou, waar vrae gevra en beantwoord kan word en die relevante inligting gedeel sal word. Die grondfisika en permanente eienskappe saam met die kleidispersie en flokkulasie-informasie word dan verskaf aan elke deelnemende boer.
Ons wil die monsters vroeg in Maart 2025 kom neem en hoop om die inligtingsdag voor die einde van Maart 2025, in elke relevante vallei te hou. Hierdie is ‘n goeie geleentheid om ‘n slag anders na jou grond te kyk en om ‘n erkende spesialis, met meer as 40 jaar se ondervinding in Suid-Afrika, se insette te verkry.
Vir verdere inligting, skakel gerus vir Johan Vorster by 064 624 8550 of Robert Griebenow by 081 396 1061.
PROFESSOR LEON DANIEL VAN RENSBURG
Leon voltooi sy skoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Ugie, waarna diensplig by die Pantserskool in Bloemfontein volg. Na voltooiing van die Junior Leierskapkursus in 1978 by die Pantserskool, sluit hy as Instrukteur vir nog 2 jaar by die weermag aan. Gedurende hierdie tydperk het hy as Troepsersant opleiding gegee en was hy betrokke by verskeie gemeganiseerde weermagoperasies in Angola.
Na die weermag behaal hy grade in B.Sc. Agric, B.Sc. Agric. Hons, M.Sc. Agric en Ph.D., met opleidingsfokus in grondkunde en agronomie by Kovsies.
Hy was werksaam as Grondkundige by die Instituut vir Grond, Klimaat en Water asook die Landbounavorsingsraad. Die res van die tyd (28 jaar) was hy by Kovsies betrokke, eers as Navorsingsassistent, daarna Navorser en later as Dosent in die Departement Grond, Gewas en Klimaatwetenskappe. Na 15 jaar as Professor, tree hy af in 2019. Gedurende sy dosentjare het hy onder andere gondchemie, grondfisika en volhoubare landbou vir voor en nagraadse studente aangebied. Hy het ook vir meer as 40 meester- en doktorstudente studieleiding gegee. Hy het tot op hede 112 weten-skaplike bydraes (artikels en boeke) in geakrediteerde joernale en kongres-handleidings gemaak. Hy het
ongeveer 40 wetenskaplike verslae vir verskeie instellings gedoen, onder andere vir die Waternavorsingskommissie, Anglo-American Mine, FAO, die Landbounavorsingsraad (interne verslae), Qatar : HIA Expansion Project, Berarri Forest (UAI) en Saudi-NEOM (Trojena). Hy het ook meer as 100 voordragte by nasionale en internasionale kongresse in versekeie lande gedoen.
In 2019 sluit Leon voltyds by Van’s Lab in Bloemfontein aan. Hy en sy dogter, Lindi, ‘n Chemiese Ingenieur, is beide medestigters van Van’s Lab. Van’s Lab is ‘n privaat laboratorium wat ‘n alternatief bied wat die konvensionele grondlaboratoriums nie bied nie. Daar word gepoog om die laboratorium na die plaas toe te vat wat ‘n alternatief bied vir die konvensionele presisieboerdery naamlik, AKKURATE BOERDERY.
Skakel Professor van Rensburg gerus by 084 593 1214 of stuur ‘n e-pos na
vanslab.africa@gmail.com vir verdere toeligting.
(soil health matters: vans lab launches its soil physical scorecard).

